• radio-kc
  • community
  • For the community by the community

Recent News

Downloadable PDF

 Storievertel-fees in die Paarl-vallei

22 tot 27 September 2014 – Erfenisweek
'Twintig jaar van demokrasie: vertel jóú storie wat Suid-Afrika  vooruit laat beweeg'

Nóg 'n eerste vir die Paarl en die Drakenstein-vallei waar inwoners en besoekers deur stories en vertellings mekaar beter kan leer ken en meer kan uitvind oor die streek se geskiedenis en mense.

Dít is die eerste Storievertel-fees waartydens die vallei se inwoners, van Saron en Gouda verby Wellington en die Paarl tot by Simondium, hulle stories op unieke wyse gaan vertel en boekstaaf as deel van 'n besondere poging deur inwoners om oor en van mekaar te leer.

Die Storievertel-fees, wat aangebied word deur die plaaslike gemeenskapsradiostasie, Radio KC, in samewerking met gemeenskapsorganisasies wat hulle vir erfenis en kultuur beywer, gaan in Erfenisweek,van 22 tot 27 September, verskeie besondere geleenthede aanbied waar hierdie streekstories op verskillende wyses en platforms oorgedra en bewaar sal word.

Dit sluit in daaglikse uurlange gesprekke om 10:00, 15:00 en 20:00 in Radio KC se nuwe ateljee in Bredastraat in die Paarl. Dit kan deur enigeen bygewoon word en sal regstreeks uitgesaai  word. Interessante bekende inwoners sal hulle eie stories sowel as interessante staaljies oor gebeurtenisse en mense vertel. Deelnemers sluit in die Paarlse media-ikoon Lambert Retief, oud- Springbok-afrigter Peter de Villiers, regter Chantel Fortuin en die uitvoerende burgemeester van Drakenstein Munisipaliteit adv Gesie van Deventer. Danie Nel , besturende direkteur van Afriplex, sal gesels oor sy passie vir wetenskap, sport en die gemeenskap; Anele Sithulweni sal vertel hoe hy van plaasseun gegroei het tot bekroonde internasionale akteur; en oudburgemeester Herman Bailey sal praat oor Wellington se geskiedenis.

Volgens mede-organiseerders Harlan Cloete, voorsitter van Radio KC, en Isabeau Botha, bestuurder van die Afrikaanse Taalmonument,  is Suid-Afrika in wese nog 'n verdeelde gemeenskap en daarom bestaan daar 'n behoefte vir almal om hulle stories van hoop vir mekaar te vertel en met mekaar te deel.

"Ons is oortuig daarvan dat ons deur die oorvertel van ons gemeenskaplike stories 'n sterker sosiale samesyn kan bou. Ons glo die Storievertel-fees sal dit regkry en almal uit al die gemeenskappe in ons pragtige vallei help om mekaar beter te leer ken en te verstaan. Dit ondersteun ook die nasionale tema van Erfenismaand, naamlik 'Twintig jaar van demokrasie: vertel jóú storie wat Suid-Afrika  vooruit laat beweeg'."

Buiten die gespekke op Radio KC is een van die interessante byeenkomste op 23 September om 17:00 wanneer besoekers oor 'n glasie wyn op die skoolwerf van die Paarl First Class Public School kan kuier en gesels. Dit is in hierdie skool waar die joernalis, digter, kortverhaalskrywer, dramaturg, hipnotis, regsgeleerde, waarnemer van dieregedrag en kindervriend, Eugène Marais in 1887 gematrikuleer het.  Marais is die skrywer van die bekende Winternag, die eerste Afrikaanse gedig.

'n Ander hoogtepunt is  Ton Vosloo, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, wat op Erfenisdag, Woensdag 24 September, om 11:00 'n praatjie lewer by die Afrikaanse Taalmonument met die bekendstelling van 'n pragboek van Jan van Wijk, argitek van die Taalmonument.

Prof Ernst Kotzé, emeritus-professor in sosiolinguistiek aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, sal ook op 25 September om 19:00 die eerste Neville Alexander-gedenklesing by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl lewer.  Die tema van sy lesing is "Om ʼn taal te besit – is daar iets soos 'eienaarskap' van Afrikaans?"

Verder is daar op 24 en 27 September, soos op elke laaste Saterdag van elke maand, om 11:30 'n kanonafvuring by die Taalmonument. Dit sluit in 'n kort praatjie in Engels en Afrikaans oor die geskiedenis van Suid-Afrika se kanonne en VOC-kanonstelsel, asook 'n demonstrasie van die gebruik van die laaigereedskap.

Die Het Gesticht-museum in Hoofstraat 112 in die Paarl bied op 25 September van 11:00 tot 13:00 'n baie interessante praatjie ter viering van Erfenisdag aan. Dié museum fokus op die geskiedenis van die slawe in die Paarl en die vestiging van 'n eie kerk vir hulle.

Drie wynmakers van die streek vertel op Vrydag, 26 September, om 17:30 hulle stories by The Thirsty Cyclist Wine Shoppe op Fratersplein in Hoofstraat, Paarl.    

Daar is ook storietoere wat insluit 'n historiese staptoer op 23 en 26 September om 10:00 van die Paarl se Hoofstraat en begeleide toere daagliks van 22 tot 26 September van die Anglo Boereoorlog-monument, en daagliks by die Taalmonument oor die oorsprong van Afrikaans wat oor drie kontinente versprei lê.

Besoekers kan ook by die Paarl Museum agter die Toringkerk op Van der Lingenplein daagliks op 22, 23, 25 en 26 September tussen 09:00 en 16:00 en op 24 en 27 September tussen 09:00 en 13:00 meer uitvind oor die geskiedenis van die Paarl en sy mense. As jy meer wil weet oor jou familiegeskiedenis kan die Heemkring in Hoofstraat 224, Paarl, tydens die feestydperk daagliks tussen 09:00 en 13:00 besoek word.

Die program sluit ook in 'n storievertel-byeenkoms van Paarl Toastmasters  in, met John "The Ironman" Mcgrath as gasspreker. Die volledige program met tye en kaartjiepryse is beskikbaar by www.radiokc.org.za en www.taalmuseum.co.za .

Vir navrae en meer inligting, kontak vir Amira Clayton by kommunikasie@taalmuseum.co.za of 021 863 4809/0543 of Harlan Cloete by Harlan@siyakhana.co.za of 082 925 5212.

Radio KC strives to inform, empower and to transform our community


Vision

To be the Leader in community broadcasting for the Greater Paarl/Wellington Area

 

Mission

We broadcast relevant quality programs that informs, edutains and empower our targeted communities  


To download our Sales & Media Kit with rate card CLICK HERE

Contact Details:

Physical Address:

107 Breda Street

Paarl

Telephone:

tel: tbc

Our Location:

Go to top